Genade in
Pyn
Twee Teelepels vol Genade
Dinsdag 17 Julie was een van daardie raar sonskyndae in Alaska en ek het besluit om voort te gaan met die
verwery aan ons huis. Die gedeelte waar ek moes begin, was ongeveer twee verdiepings hoog en ek was maar
skrikkerig, maar die werk moes gedoen word. Die leer het heeltemal stewig onder my gevoel, maar toe ek my
arm uitstrek om te begin verf, het ek skielik besef dat ek val! Desperaat het ek probeer vashouplek kry, maar die
momentum was te veel en die vel is van my vingers afgestroop. Ek het vir ’n oomblik oorweeg om die geut te gryp,
maar was bang dat die harde plastiek snywonde aan my kan toedien. Toe was ek op die grond en die donker
skaduwee van pyn het oor my liggaam geskuif en my hele wese gevul. Ek het probeer opstaan, maar kon nie
beweeg nie. Ek het na Elise begin roep. Sy het nagdiens gewerk en het in die boonste kamer geslaap. Sy het
egter die val gehoor en het uitgehardloop. Aanvanklik het ek haar gevra om die motor nader te bring, maar ek het
dadelik besef dat ek nie kan beweeg nie en het haar gevra om 911 te skakel.
Terwyl Elise by die telefoon was, het ek weer gekyk watter liggaamsdele ek kon beweeg. My bene wou nie beweeg
nie maar altwee voete se tone het beweeg. Ek kon sien dat my regterarm sleg gebreek was, maar albei hande
se vingers kon beweeg. Ek kon my vingers en tone beweeg! My eerste gedagte was: Twee teelepels vol genade!
Ek gaan dit maak, want ek het twee teelepels vol genade!
Die ambulans en paramedici was binne oomblikke daar. Hulle het my klere van my lyf geknip en na die hospitaal
gejaag. Ek het elke 10 minute binneaarse morfientoedienings gekry, later was dit elke 8 minute en toe elke 6
minute. Na pynlike ondersoeke was dit duidelik dat my regter arm en heup baie sleg gebreek is. Die dokters het
besluit om die volgende oggend te opereer. Woensdagoggend het Elise na haar nagskof my sterkte kom
toewens voordat ek operasiesaal toe moes gaan. Die twee dokters het my by die deur van die operasiesaal
ingewag en meegedeel na deeglike oorweging hulle besef het dat die beserings te gekompliseerd was om in
Ketchikan te behandel en dat ons mediese fonds ingewillig het om die meer as R200,000 te betaal om my met ’n
Lear Jet na Seattle te vervoer.
ondersoeke het baie ure geduur en ek is van een diagnostiese lokaal na die ander gestuur. Teen drie uur die
ondersoeke het baie ure geduur en ek is van een diagnostiese lokaal na die ander gestuur. Teen drie uur die
volgende oggend het ek geweet dat my bekkenbeen op twee plekke gebreek is, my regterheup moes vervang
word, my rug was op meer as een plek gebreek en my regter polsgewrig was so ernstig gebreek dat niemand ’n
prognose wou waag nie. Na 16 ure in die trauma-eenheid is ek oorgeplaas na ’n saal en gereed gemaak vir
operasies. In die saal het my maag skielik begin draai en na alles was dit duidelik dat daar ernstige inwendige
bloeding was. Nuwe alarms met ’n nuwe span dokters en nuwe ondersoeke!
bloeding was. Nuwe alarms met ’n nuwe span dokters en nuwe ondersoeke!
Intussen het golwe van pyn oor my gespoel, afgewissel deur golwe van morfienbedwelming. Ek was verward en
deurmekaar. Ek kon nie verstaan wat met my gebeur nie. My liggaam het swaar soos lood gevoel. Een nag het ek
wakker geword en kon nie beweeg nie. Hardop het ek my vyf dogters se name geroep en hulle gesmeek om my
te kom help. My verwarring het groter geword toe ek die dokters hoor praat oor moontlike operasies en dat
niemand kans gesien het om dit te doen nie. Uiteindelik was ek oorgeplaas na die akademiese hospitaal van die
staat Washington in Seattle (nie te verwar met die stad Washington DC in die ooste van die VSA nie). Skielik was
ek in een van die modernste en bes toegeruste hospitale in die VSA. Van die beste chirurge in die VSA het
uiteindelik die operasies gedoen - my heup ’n week na die ongeluk en die regterarm twee weke na die val.
Vir rehabilitasie was ek oorgeplaas na die North West Hospital waar my eerste taak was om weer te leer loop. Ek
het ’n aangepaste loopraam gekry met ’n platform vir my beseerde arm. Die loopproses was moeilik omdat al die
beserings aan die regterkant is. Na ’n paar dae kon ek dit regkry om my regtervoet saam te sleep in ’n
voorwaartse beweging! Ek het nie omgegee hoe groot die gesukkel was nie; wat my betref het ek geloop! Trane
het oor my wange geloop en ek moes vir Elise gerusstel dat dit trane van dankbaarheid was. Dit was die eerste
emosie wat ek in drie weke ervaar het. Dit is toe dat ek Elise vertel het van die twee teelepels vol genade.
Elise se reaksie was dat dit mos baie meer as twee teelepels was, maar die feit is dat die Heer se genade so
oorvloedig is dat een teelepel vol genoeg is vir ’n mens se lewe. ’n Klein skeppie genade is genoeg om ’n mens
se hele lewe te vul, om in te dring in die donkerte waar pyn, vrees en angs heers en om dit te vervang met
rustigheid, moed en hoop. Dikwels lyk die probleme en terugslae in ’n mens se lewe so groot dat jy nie die
skeppie genade raaksien wat daarmee saamgaan nie en daardie skeppie bevat die volle liefde van Jesus
Christus!
NS Ek het hierdie stukkie met my linkerhand geskryf. Dit sal nog maande duur voordat my regterhand weer
bruikbaar is. Alhoewel ek met die groot en lompe loopraam in die huis rondbeweeg, is ek maar nog baie
afhanklik. Ek glo dat ek oor so 6 na 8 maande weer normaal sal kan leef, maar ek onthou dat ek twee teelepels
vol genade het – meer as genoeg!
Freddie Burger,
Ketchikan,
Alaska 29 Augustus 2007
