Verpleging in die VSA Verpleging in Alaska verpleegervaring in Amerika
Verpleging in die VSA.
My eerste kennismaking met verpleging in Amerika was toe ek in September 2002 die
sogenaamde “Board Exams” moes gaan aflê. Vir hierdie doel moes ek Atlanta toe vlieg. Dit was
’n rekenaargebaseerde eksamen  met multikeuse vrae en was ietwat senutergend, want na 75  
vrae kan die rekenaar bepaal of jy genoeg weet om te slaag en of jy onderdeur is. Dan word die
eksamen net daar stopgesit.  Indien die rekenaar onseker is of jy dit gaan maak of nie, moet jy
maar 256 vrae doen en wag vir die uitslag. (Ek het net 75 gedoen en was gelukkig deur.)  Die
dag daarna moes ek ’n Engels-eksamen aflê om te bewys dat ek darem my werk in Engels sal
kan behartig. Hierdie eksamen was maar effentjies - so ongeveer graad 6 of 7 standaard.
My ware vuurdoop het eers gekom in die dorpie Bradford in die pragtige Allegheny-woud in
Pennsylvania. Die hospitaal was klein, gemeet aan Amerikaanse standaarde, maar baie besig
met baie verskillende spesialisdienste.
As Afrikaanssprekende het ek geweet dit sal ’n groot aanpassing wees om alles in Engels te
doen, maar ek het nie besef dat daar so ’n groot verskil is tussen gewone Engels en
Amerikaanse Engels nie. Dan was daar nog  die duisende afkortings wat in gebruik was. Aan
die begin kon ek nie kop of stert verstaan wat alles gesê word gedurende verslaggewing nie,
want dit was deurspek met afkortings. Amerikaners dink, praat en skryf in afkortings. “H+H”
staan vir hemoglobien en hematokrit. “LOC” staan vir “level of consciousness” en “ADL” vir
“activities of daily living”. Daar was duisende nuwighede tydens die orienteringsproses. Die
toerusting was alles verskillend van wat ons gewoond was in SA. Die verpleegstruktuur verskil
ook baie van wat ons gewoond is in SA, maar ek is genadiglik deur alles. Eer aan God  alleen.
Na Bradford het ek ’n pos aanvaar by Ketchikan General Hospital in Alaska.  Hier was ek in ’n
supervisor posisie, iets wat ek glad nie geniet het nie vanweë my kort tydperk in die VSA. Om ’n
supervisor hier in Alaska te wees, is ietwat anders as op ander plekke omdat ons so
afgesonderd is. “Medivacs” moes dikwels gereël word wanneer ernstige pasiënte na groter
hospitale vervoer moes word. Dit het reëlings behels vir ’n bed in die oorplasingshospitaal,
ambulansreelings tot by die lughawe, reëlings met die lughawe self,   reëlings met die lugdiens
wat hierdie tipe vervoer verskaf, en natuurlik reëlings met die pasiënt en familie. ’n Ander
aspek van hierdie werk was die aanhouding van pasiënte wat ’n gevaar vir hulleself of vir
andere inhou. Dan moes ’n hofstuk eers uitgereik word ’n hele stel reëls nagevolg word en so ’n
persoon se regte voorgelees word.
Terwyl ek vir ’n  agentskap gewerk het,  was verandering elke paar maande aan die orde van
die dag. Die volgende plek op ons lys van ervaringe was Los Angeles, die naasgrootste stad in
Amerika.  Hier het ek elke aand op pad werk toe deur ’n lang tonnel gery wat onderdeur ’n
aanloopbaan van die groot LAX lughawe geloop het. Die toestande in hierdie hospitaal was nie
naastenby die gehalte van die ander twee hospitale waarmee ek toe al kennis gemaak het nie
en die atmosfeer glad nie baie gemaklik nie. Soos dit maar in groot stede gaan, was alles baie
meer onpersoonlik. Hierdie hospitaal het min permanente personeel gehad. Die meeste
verpleegkundiges het, soos ek, vir ’n verpleegagentskap gewerk en het gewoonlik kontrakte
van drie maande gehad. Die ander interessantheid was dat sommige verleegkundiges gehuur is
vir slegs 1 nag of dag op ’n keer, afhangende van die pasiёntgetalle. In die staat Kaliforniё
waarin LA geleё is, mag daar nie meer as 6 pasiënte aan een verpleegkundige toegesê word
nie. Moenie dat dit jou flous nie. Somtyds werk jy jou flou aan vier of vyf pasiënte. Dit hang
alles af van  akuutheidsvlakke.
Na  Los Angeles  is ons terug na Ketchikan waar ek nog ’n rukkie vir die agentskap gewerk het
en daarna as gewone hospitaalpersoneellid aangestel is. Ek werk nou al ’n geruime tyd in die
Long Term Care afdeling wat eintlik ’n unieke eenheid is. Pasiënte word soontoe oorgeplaas  
nadat hulle oor die mees akute stadium van ’n probleem is en hulle bly daar vir enigiets van ‘n
paar dae tot ’n aantal maande. Arbeids- en fisioterapie speel ’n baie groot rol in ons afdeling en
pasiënte word baie holisties behandel. Voordat ’n pasiënt ontslaan word, word daar eers
“discharge planning” gedoen. Dit behels dikwels dat ’n arbeidsterapeut, fisioterapeut en die
pasiënt self na sy/haar huis gaan om te evalueer of die pasiënt sy/haar ADL’s tuis kan hanteer,
bv of hy/sy die trappe kan klim en of daar reëlings is om aan vas te hou, of die pasiënt self in en
uit die stort of bad kan kom, hoedanig die onderdsteuningshulp is ens.
Ons afdeling het ook meer as een personeellid vir “Activities”. Hulle reël funksies  en sien toe
dat pasiënte se hare mooi versorg word en dat daar altyd genoeg is om te doen sodat pasiënte
hulle nie verveel nie. Groot ophef word gemaak van die belangrikste feestye soos Kersfees en
Thanksgiving. Dan word daar altyd ’n ete gereël waarheen die pasiënte hulle familie kan
uitnooi.(En kan jy glo,die aantal word nie beperk nie!)
Voorwaar ’n ander wêreld waarin ons leef.
Tot later. Skryf gerus as jy meer wil weet.
ELISE
Ketchikan Hospitaal
Bradford Hospitaal
Verpleging in die VSA EeraanGodalleen
Fotos hospitaal in Alaska, Ketchikan Hospitaal,Hospitaal in VSA, Afriaanse verpleegkundige in VSA,